Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

UKZN Press

@ Sunday Times Books LIVE

Lees: Christi van der Westhuizen bespreek Sitting Pretty met Naomi Meyer

Christi van der Westhuizen se mees onlangse boek, Sitting Pretty: White Afrikaans Women in Postapartheid South Africa is pas deur UKZN Press uitgegee. Dié merkwaardige boek ondersoek onder meer identiteit, die konsep van ordentlikheid, en die Afrikaner. Lees Naomi Meyer se LitNet-onderhoud met Christi hier:

Christi, baie geluk met Sitting pretty. Ek het ’n onlangse kykNET-gesprek tussen jou, Kabous Meiring en Deborah Steinmair hieroor gesien en wil afskop met: Waarom het jy hierdie boek geskryf? Vertel my hiervan, en vertel my asseblief ook van jou ouma.

My vorige boek, White power & the rise and fall of the National Party, het vraagstukke oor ras, klas, politiek en ekonomie op die makrovlak getakel. Met die skryf daarvan het nuwe vrae by my ontstaan oor die vorming van identiteit, oftewel subjektiwiteit. Hoekom heg ons onsself aan onderdrukkende sosiale kategorieë soos ras, klas, geslag en seksualiteit? Ek wou sin maak van die kwessie binne my eie konteks van apartheid en Afrikaner-nasionalisme.

In my familie is ek grootgemaak deur sterk vroue wat in mindere of meerdere mate Afrikaner-nasionalisties was. My een ouma (gebore Viljoen en getroud met ’n Erasmus) was ’n veldkornet in die Ossewa-Brandwag. Daarteenoor het haar dogter – my ma – reeds in die ’70’s apartheid as stelsel al meer begin bevraagteken en dit uiteindelik teen die vroeë ’80’s verwerp as onmenslik.

Dit is die nalatenskap waaruit ek kom, en dit is belangrik vir my om dit te verstaan. Hoeveel agentskap het hulle gehad en hoeveel het ek? Kan ons as mense ’n meer etiese wêreld skep, of is ons oorgelewer aan ons omstandighede?

In die Prontuit-gesprek het jy gesê dat jy as Afrikaner identifiseer. Wat beteken dit vir jou?

My identifisering as Afrikaner is ’n etiese besluit, en wel om twee redes.

Die eerste is dat ek binne ’n Afrikaner-nasionalistiese konteks grootgemaak is, met al die gepaardgaande regverdigings van rasse-, geslags- en ander hiërargieë, en met die bevoordeling wat apartheid vir veral wit Afrikaanssprekende mense teweeggebring het. Deur steeds as Afrikaner te identifiseer, erken ek my verlede en die voordele wat ek daaruit getrek het. Dit maak dit vir my moontlik om nie net krities nie, maar ook selfreflektief met daardie geskiedenis en die voortslepende effekte daarvan om te gaan, ook vir my persoonlik.

Die tweede rede is dat ek binne daardie konteks positiewe persoonlike belewenisse gehad het, en dat daar menslik-bevestigende waardes met my gedeel is wat, paradoksaal, uiteindelik ook my kritiese posisie moontlik gemaak het. Deur as Afrikaner te identifiseer, erken ek hierdie emosionele en intellektuele bande, asook die bron van my etiese ingesteldheid van ontleding en selfkritiek.

’n Woord wat oor en oor genoem word: “ordentlikheid”. The done thing. Om iets in stand te hou, nie die bootjie te skommel nie, of ongemak te veroorsaak nie. Praat ons van vroue wat by mans langs die vuur gaan staan in plaas van slaai maak in die kombuis? Of deurtrek dit die samelewing, is dit méér as dit? En tog: soms kan mens nie anders as om binne ’n stelsel te funksioneer nie – dis tog orals. As die land se geldeenheid die rand is, kan mens nie betaal met die eenheid van jou keuse nie. Help my asseblief om die term te verstaan.

In my studie het ek gevind dat sommige wit Afrikaanssprekende mense nie meer as “Afrikaners” identifiseer nie. Ek moes ’n ander begrip vind om die identiteit te beskryf. Ordentlikheid is daardie begrip, omdat dit die verskillende dimensies van die identiteit die beste vasvat. Dit spreek tot ’n aspirasie om ’n sekere respektabelheid te verwesenlik deur ’n spesifieke stel reëls oor ras, klas, geslag en seksualiteit na te volg.

Om as ’n Afrikaanssprekende wit vrou “ordentlik” te wees, moet ’n mens jou na ’n spesifieke klasgegronde vorm van wit patriargale heteroseksualiteit skik. Jou gedrag word gepolisieer met idees oor beleefdheid en goeie maniere. As jy nie aan die vasgestelde norme voldoen nie, loop jy die risiko van stigmatisering, marginalisering en uitsluiting. Maar daar is ook ’n dissidente vorm van ordentlikheid onder wit Afrikaanssprekendes wat, met ’n etiese oogmerk, ras- en geslagshiërargieë verwerp en aktief daarteen werk, soos in my boek beskryf.

’n Mens kan sê dat die verdeling van Afrikaanssprekendes in twee groepe op grond van ras in die 20ste eeu ’n grootskaalse en eerste proses van stigmatisering, marginalisering en uitsluiting was. Dit het gedemonstreer dat om ordentlik te wees, jy wit moet wees. Bruin Afrikaanssprekendes het ordentlikheid uiteraard anders gedefinieer, soos deur die antropoloog Elaine Salo beskryf.

Klik hier om verder te lees.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment